Alweer Vergeet Van Die Gevare Van Die Vrolike Veld?

Published on Apr 08, 2019
white arrow pointing left
Back to Media Centre
Foto van Andries Wiese, hoof van Hollard AgriSource: Andries Wiese, hoof van Hollard Agri

Die digter C. Louis Leipoldt reken “al die veld is vrolik en al die voëltjies sing”. Ek dink eerder Laurika Rauch slaan my gevoelens op die kop as sy sȇ, “Vergeet om my te vergeet, onthou om te onthou.”

Die veldgras van onthou en vergeet knaag aan my enkels se sawwe dele soos die vrolike veld my aan’t knor het.

My Enigste reken dis die draai van die seisoen wat my so galsterig laat klink. My kinders skryf deesdae alles toe aan my ouderdom en selfs die hond vermy my wanneer ek skemer tuiskom. Ek hou egter voet by stuk: ons vergeet te maklik!

Drie jaar gelede het Suid Afrikaanse brandbestrydingspanne al dansend en singende die Kanadese gehelp om wegholbrande te blus. Knysna se brande het ons almal laat stilstaan en besin oor hoe maklik vuur ons wêreld kan verwoes en mense vanuit alle sosio-ekonomiese groepe het al hulle aardse besittings en ook geliefdes verloor.

Soos die tyd verby stap staan jy maklik om ‘n braaivleisvuur en raak in ‘n argument betrokke oor waar en wanneer die ergste vuur in die distrik was. Dan sal daar ook herinneringe vol lag wees oor die chaos daarrondom en die groot skrik en dan sal daar stilte daal by die onthou van die skade en seer.

En dan vergeet ons weer.

Hier in die Noorde, waar ons somerreëns nou finaal begin wyk met die aanvang van die winter, lyk die veld plek-plek pragtig. Uit Frankfort word daar gehoor dat daar lanklaas soveel bale gesny is en hulle lê soos miere op die land. Verder Oos word daar berig dat hulle vee bykoop vir die winter omdat die veld dit sal toelaat.

Ek raak bang want ons vergeet so maklik dat daar nie noodwendig vir almal oorvloed was dié seisoen nie, en die droogte is nog lank nie klaar nie. Dit wat wel staan kan so maklik brandslaan en dan is dit weg!

Hierdie jaar is die Nasionale Wet op Veld en Bosbrande (Wet 101 van 1998) mondig, ‘n hele 21 jaar oud. Tog, wanneer ek op boeredae met mense praat (of sommer rondom daardie die braaivleisvuur) dan voel dit my die meerderheid het vergeet van die wet.

As versekeraars is daar ‘n paar dinge wat uitstaan rondom die spesifieke stuk wetgewing wat nie sommer vergeet kan word nie:

  • Enige grondeienaar oor wie of vanaf wie se eiendom ‘n brand kan versprei word deur die wet aanspreeklik gehou – dit beteken dit raak elke boer!
  • Selfs al huur jou kliȅnt slegs die grond, kan hulle steeds aanspreeklik gehou word.
  • Daar is vereistes in die wet wat ontsaglik belangrik is vir grondeienaars, onder andere, brandbane, personeel, opleiding, toerusting en permitte.
  • Lidmaatskap aan brandbeskerming verenigings (BBV’s) is nie verpligtend nie, maar as jou kliȅnt gedagvaar word en onskuld moet bewys omdat hulle onderhewig is aan die bepaling van omgekeerde aanspreeklikheid sal jy tog wonder oor hoekom jy nie vir hulle aangemoedig het om aan te sluit nie.

Die dae van ‘n paar honderdduisend rand se eise is verby, nou praat ons letterlik van miljoene rande se eise wat selfs die sterkeres onder boere sal seermaak. Om dit eenvoudig te stel, as jou kliȅnt nie voldoen aan die vereistes van die wet nie, kan versekeraars hulle nie dek nie.

Fynskrif om in gedagte te hou rondom brandbane:

  • Die brandbaan moet lank en breed genoeg moet wees om redelikerwys die verspreiding van ‘n brand te keer.
  • Dit moenie gronderosie veroorsaak nie.
  • Dit moet vry wees van brandbare materiaal wat ‘n veldbrand sal ondersteun.
  • Dit moet op die grens van jou grond wees en jou buurman moet dieselfde doen.
  • Daar mag slegs gebrand word met die nodige permit en bome mag nie net sommer verwyder word as hulle in die pad is nie.

Die ander kinkel wat ons so maklik vergeet wanneer dit kom by brandbane is die vrystellingsding. Ek dink eintlik dit is nie van vergeet soveel as van misverstaan nie.

Heelwat boere is onder die indruk dat indien hulle BBV ‘n alternatiewe plan opgestel het om brandbane te maak of nie te maak nie (waar daar ‘n rivier is of die topografie dit nie toelaat nie), alles in orde is.

Die feit is dat so ‘n plan alleen nie die lede kwytskeld nie. Daar moet formeel antwoord van die minister of sy gevolmagtigde gekry word dat die plan reg en aanvaar is. Gebrek hieraan beteken dat jou kliȅnt nie voldoen het aan die vereistes van die wet nie, en versekeraars sou so ‘n eis kon weier as voldoening ‘n vereiste was op die polis.

Terwyl ons praat van polisse, wanneer laas het jy seker gemaak dat jou kliȅnte brandverspreidingsdekking het op al hulle grond insluitend brandbluskostes? So vergeet ons, nè!

Ons kan nie bekostig om een hektaar van ons kosbare weiding hierdie winter te verloor nie. Die droogte is nog te knap om te glo als gaan sonder hik of stik gebeur.

As jy iets moet onthou na dese is dit om seker te maak jou kliȅnte dekking het vir die dinge wat kan seermaak en dat die noodwendige voorbereidings getref kan word vir as daardie brand wel opstaan.

Ja, die veld is vrolik en al die voëltjies sing, maar onthou tog net die Nasionale Wet op Veld en Bosbrande!